5 maande gelede
Vrou maak plan met pynappels
PYNAPPEL-QUEEN: Reinette Bergh se stalletjie is baie gewild.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Jou ding moet pynappel!

Sy kon daardie aand nie slaap toe die president aankondig dat die verkope van drank vir eers taboe is nie.

Só het Reinette Bergh, bekende inwoner van die dorp en verkoopsdame by ’n plaaslike drankwinkel, ná die aankondiging gesê.

Reinette vertel opgewonde: “My kop het glad gepyn. Aan die een kant omdat ons drankwinkel moes toemaak en aan die ander kant die gedagte om my salaris dan aan te vul uit die verkoop van onder andere pynappels.”

Haar netjiese pynappelstalletjie in die hoofstraat trek nogal menige motoris se aandag.

Billik

Reinette rangskik die pynappels netjies op rakke. Sy verkoop ook die bekende King Korn-biermengsel en selfs aartappels en ander bestanddele vir die resep vir heerlike pynappelbier.

Volgens Reinette, wat ’n kop vir besigheid het, is haar pryse billik.

“Ek sê jou, die pynappels vlieg van die rakke af. Ek maak genoeg om iets op die tafel te sit.

“ ’n Mens moet maar eerder maniere bedink as wat jy in sak en as sit en vergaan.”

Een van hierdie netjiese vrou met die sprankelende persoonlikheid se gereelde customers vertel: “Pynappelbier is mos deel van ons culture.

“En as hy dan ’n lekker skoppie het, wie sal dan stry?

“Dit is in elk geval baie goedkoper as wat jy by smokkelhuise moet betaal vir drank. Boonop is dit ook gesond.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters