16 dae gelede
Vrou later gevonnis vir mesdood
 ~ 

DIE vonnisoplegging van ’n ma van vyf van Matjiesrivier wat skuldig bevind is aan strafbare manslag, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel.

Dit is omdat korrek­tiewe-toesig- en proefbeampteverslae nog uitstaande is.

Junene Coerecius (36) het haar buurvrou Brenda Minnies (41) met ’n mes in die bobeen gesteek.

Coerecius het onskuldig gepleit omdat sy nie die opset gehad het om Minnies dood te maak nie.

Coerecius het in haar pleitverduideliking gesê sy het dié betrokke Sondag hoender vir ete berei toe Minnies haar valslik daarvan beskuldig het dat dit haar hoender is wat sy gesteel het.

Volgens Coerecius het Minnies haar toe soos gewoonlik uitgeskel.

Sy was die vorige week juis in die hospitaal nadat Minnies haar met ’n mes gesteek het. Minnies het dié keer met ’n skêr na haar gesteek, waarna sy die mes waarmee sy besig was, in die huis gaan haal en Minnies gesteek het.

“Dit is al jare dat sy my verneder wanneer sy dronk is en ek het kwaad geword,” lui Coerecius se verklaring.

“Ek wou haar net beseer.”

Wenzel Botha, Coerecius se lawyer, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters