10 dae gelede
Vrou is uit op bail ná dwelmklag
VONDS: Hierdie dwelms is na bewering in Mfumbe se besit gevind.  ~ Foto Verskaf

BORGTOG van R10 000 is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan ’n vrou van Bongolethu wat met dwelms van sowat R1,4 miljoen in haar besit gearresteer is. Sy staan tereg vir dwelmhandel.

Khanyisa Mfumbe (35) is op 30 Desember op die Unie Plein taxi-staanplek in hegtenis geneem.

Die Attaqua-honde-eenheid van die polisie was besig met ’n operasie toe die verdagte optrede van ’n vrou hul aandag getrek het.

Sy het probeer om ’n groot tas te versteek, maar met die hulp van ’n snuffelhond is die dwelms in die tas gevind.

Daar was 9 000 Mandrax-tablette en 6 pakkies tik met ’n gewig van 2 kg in die tas.

Betaal

Mfumbe sê in haar verklaring dat sy sedert haar geboorte saam met haar ma in Bongolethu woon. Sy het twee minderjarige kinders.

Sy het ook gesê haar familie sal R10 000 as borgtog kan betaal.

Die staat het nie borgtog teengestaan nie. Landdros Marvin de Vos het borgtog toegestaan op voorwaarde dat sy nie kontak maak met staatsgetuies nie, haar elke Maandag en Vrydag tussen 06:00 en 18:00 by die Bongolethu-polisiestasie aanmeld, nie by enige verdere misdaad betrokke raak nie en nie die Oudtshoorn-distrik verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie.

Die borgtoggeld is Maandag betaal en Mfumbe is vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 Februarie uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters