22 dae gelede
Vriend sê oor moordtoneel
betogers: Mense buite die hof eis geregtigheid vir die vermoorde soldaat.Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – ’n Mes en hamer is die waarskynlikste moordwapens.

Só het dr. Mariëtte Hurst, wat die nadoodse ondersoek op Preston Titus (49) gedoen het, gister in die rondgaande hooggeregshof getuig.

Hurst is die eerste van 40 getuies in dié hofsaak wat Maandag begin het.

Die slagoffer se vrou, rdl. Magdaleen Titus, en haar medebeskuldigdes, Natasha Stuurman, Justice Mooi en Masimthembe “MJ” January, staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en regsverydeling.

Hulle pleit onskuldig.

Hurst getuig die oorsaak van Titus se dood was die erge bloedverlies weens veelvuldige steek- en kapwonde met ’n skerp en stomp voorwerp.

Sy gesig was vol kaphoue en daar was steekwonde in sy nek, arms, rug en been. Van die steekwonde is met gewel­dige krag toegedien.

Worsteling

Hurst het getuig dat sy die slagoffer op 2 Desember 2017 in ’n plas bloed in sy slaapkamer aangetref het.

Sy het getuig die aanval moes tussen vier en tien ure vroeër gebeur het.

Die kamer se muur was vol bloedspatsels, wat op ’n worsteling dui.

Die steekwonde aan die slagoffer se gewrig en arms dui daarop dat hy die aanval probeer afweer het, het Hurst getuig.

’n Weermagkollega en huisvriend van die Titusse, James Dido, wat twee huise verder woon, het getuig dat sy seun hom omstreeks 23:00 die aand van 1 Desember kom roep het.

Hy’t gesê hy moet gaan kyk, want Preston Titus “lê in ’n plas bloed”.

By sy aankoms by die huis het die gesin se oudste dogter na hom toe aangehardloop gekom. Daarna het hy ook haar ma en jonger suster op ’n bank voor die agterdeur sien sit.

Magdaleen Titus se woorde aan hom was dat hy moet gaan kyk wat daar binne­ met Preston gebeur het en of hy nog leef.

Hy het terug gesteier omdat traanrook uit die huis geborrel het.

Ná ’n rukkie het hy ingegaan en sy bebloede vriend aangetref.

Hy getuig die lig het gebrand en die slagoffer het op sy maag op ’n duvet gelê met sy regterhand onder sy kop op ’n kussing.

Sy een selfoon was in sy hand en die ander langs hom.

Dido getuig hy kon nie sien of daar enige inbraak was nie.

Volgens hom was dit ook vreemd dat die huis se buiteligte­ af was omdat die slagoffer dit altyd, regdeur die nag, laat brand het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters