Verlede maand
Vlammehel eis babameisietjie
GESKOK: Desiré Campher met haar dogtertjie Veronique, wat die brand oorleef het.  ~ Patrick Jackson

DYSSELSDORP. – Sy is verkool net omdat haar boeta nie sy sin kon kry nie.

Dít was Sondag die tragiese lot van die 18 maande oue Chanté Campher toe sy in haar ouerhuis doodgebrand het.

Haar ma, Desiré (29), en vierjarige sussie, Veronique, het die vlamme vrygespring.

Die drama het die betrokke middag begin­ toe Desiré se 14-jarige dwelmverslaafde seun ’n R10 by sy ma gesoek het.

Toe hy nie sy sin kry nie, is hy met ’n stuk papier en ’n lighter in die huis in.

Oomblikke later het die moeder van alle vlamme die huis omhul.

Desiré was nog erg in skok toe sy vertel van die gebeure wat haar haar kosbare dogtertjie gekos het.

Volgens haar wou sy haar seun stuur om R20 se krag te koop.

Die hartseer en gebroke mammie vertel: “My seun gebruik dwelms en omdat ek bang was hy gebruik die R20, het ek gaan kyk waar hy is.

“Ek het die R20 by hom gevat en wou self krag koop.

“Daar was toe nie krag nie en dis tóé dat hy ’n R10 wou hê.”

Volgens Desiré het haar seun kwaad geword en aan haar gesê sy gaan nou sien wat hy gaan doen.

“Ek het in daardie stadium na my bure oor die pad geloop. Net die volgende oomblik het hy vir my kom sê: ‘Kom kyk, dit brand daar.’

Geskree

“So, hy het sy eie suster uitgebrand. Ek weet nie hoe om te sê hoe ek voel nie.”

’n Buurman, Elrico Smith (36), sê daar is gesien hoe die seun met ’n papier en ’n lighter uit die huis uitkom.

“My kinders het geskree die huis brand.

“Ons het toe die vlamme probeer blus, maar dit was klaar te laat.

“Veronique kon gered word, maar nie Chanté nie.

“Die brandweer het opgedaag en kon daarin slaag om te keer dat die brand na die huis langsaan versprei,” vertel Smith.

VERSKRIKLIK: Bure staan verdwaas rond by die huis waar die tragedie hom afgespeel het. Foto: Patrick Jackson

Kapt. Joey Strydom van die Dysselsdorp-polisie het die voorval bevestig.

Volgens Strydom ondersoek Oudtshoorn se kinderbeskermingseenheid ’n klag van moord.

Die seun se eerste hofverskyning was gister in die plaaslike landdroshof.

Hy is ná sy eerste ver­skyning in ’n familielid se sorg geplaas.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters