Verlede maand
Vlamme laat vele dakloos
RAMP: Twee afsonderlike brande het mense dakloos en sonder besittings gelaat.  ~ Mpuma Kiva

GESINNE het ál hul besittings in twee afsonderlike brandvoorvalle in die Bhongolethu-woonbuurt in Oudtshoorn verloor.

Die brandvoorvalle het Sondag voorgekom.

Don Jansen (45) is sy eenvertrek-shack in die Black Joint-plakkerskamp kwyt nadat sy plekkie afgebrand het nadat kinders met klappers gespeel het.

’n Platgeslane Jansen sê die kinders wat in sy buurt met klappers en vuurhoutjies speel, is ’n groot kopseer.

Hy voeg moedeloos by: “Kyk net wat het hul spelery veroorsaak. Ek is my blyplek kwyt.

“Winkels wat die klappers aan kinders verkoop, moet aangespreek word.”

In ’n ander voorval krap ’n gesin steeds kop oor wat hul tweeslaapkamer-shack laat vlamvat het.

Marhewu Mdamba sê ’n brand het in ’n hokkie uitgebreek en ál hul besittings verwoes.

Inwoners het hulle met emmers water na die toneel gehaas, maar moes magteloos toekyk hoe die vlamme alles verswelg.

Verstaan

Mdamba sê hy het buite saam met sy vriende gesit toe die brand uitbreek.

“Wat die brand veroorsaak het, is ’n mystery. Die brand het alles gevat ... alles.

“Ek kan nie verstaan hoe die plek kon brand nie, want die elektrisiteit was afge­skakel,” sê Mdamba.

Die plaaslike brandweerdiens sê die oorsaak van die twee brande is in dié stadium nog nie bekend nie en dit word ondersoek.

Inwoners is gemaan om altyd baie versigtig te wees met vlambare items.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters