20 dae gelede
Verdagte vas oor ‘spaza-buit’
GENIET DIT! Selfs ’n enorme wiel vermoedelik gesteelde kaas is in die verdagte se plek gekry.  ~ Keith Meyer

ZOAR. – Die polisie hierso het onlangs in ’n misdaad­intelligensie-gedrewe operasie op ’n dief se buit van verskeie items toegeslaan.

Te oordeel na die groot verskeidenheid gesteelde ware lyk dit asof die dief ’n spaza shop wou oprig.

’n Bron vertel: “Die ou is eintlik al ’n bekende hier as gevolg van sy criminal activities. Waarom hy al daai goed steel en dan in sy joint hou, sal net hy van wys is.”

Die buit het sowaar kaas, kragopwekkers, waterpompe, verkykers, handradio’s, bore en bougereedskap ingesluit.

Maar die gebruiklike tik, Mandrax en dagga is ook in die huis gevind.

AO Jannie Cedras, polisiewoordvoerder, sê: “Die polisie het ’n groot deurbraak gemaak toe hulle die huis deursoek. Lede van die speurdiens en misdaadvoorkomingseenheid het met ’n lasbrief die perseel van die 40-jarige verdagte deursoek.

Ywer

“Dwelms soos tik, dagga­bome, dagga, Mandrax, asook radio’s, verkykers en selfs kaas is gevind.

“Hy is gearresteer en die aanklagte sluit in dwelmbesit, die besit van gesteelde goedere, huisbraak en diefstal.

“Hy verskyn weer Maandag in die hof.”

Lt.kol. Pauline Kriel, stasie­bevelvoerder, sê: “Ek wil die lede loof vir hul ywer om misdaad te bekamp.

“Ek wil ook die publiek bedank vir hul vertroue om informasie aan die polisie deur te gee. Die gemeenskap moet onthou dis ook ’n misdryf om in besit van gesteelde eiendom te wees.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters