Verlede maand
Vendors praat jonges moed in
Werk slim: Sam Titus (links) en sy getroue customer Hendrik Links is van mening dat mense die R350-toelaag vir hulle kan laat werk.  ~ Mpumi Kiva

GEORGE. – Plaaslike groentestalletjie-eienaars het jong mense aangemoedig om hul R350-verligtingstoelaag te gebruik om honger, swaarkry en werkloosheid die nekslag toe te dien.

Dié pleidooi kom nadat die regering besluit het om weer die R350-toelaag in te stel.

Sam Titus, ’n stalletjie-eienaar, meen daar is geen hoop dat die regering werk sal skep nie. Titus het gesê: “Hierdie R350 is nie baie nie, want die prys van kos en elektrisiteit het opgegaan.

“Daar word nou niks meer gepraat van werkskepping nie, maar baie mense verloor hul werk weens Covid-19.”

Slim

Hy sê dís waarom jong mense en werkloses slim met die R350-toelaag te werk moet gaan.

“Jy kan ’n besigheid met hierdie geld begin, want honger klop deesdae aan baie mense se deur,” meen hy.

Nóg ’n vendor, Sadie Meintjies, van Borcherds, George, sê werkloosheid maak dat baie gesinne saans honger bed toe gaan.

“Ek het ook my werk in 2019 verloor, maar nog nie ’n oomblik teruggekyk nie. Ek het begin om lekkers, pakkies chips en later groente te verkoop.

“Dít help my om kos en krag te kan koop. Die R350 gaan nie mense se lewens verander nie, maar as jy ’n doel het daarvoor, kan dit jou lewe verbeter,” het Meintjies gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters