19 dae gelede
Uitstappie eindig tragies
Duwayne September  ~ Foto Verskaf

MATJIESRIVIER. – ’n Visvangekspedisie wat veronderstel was om ’n ontspanningsuitstappie te wees, het hier baie tragies geëindig.

Duwayne September, ’n 15-jarige leerder van Laerskool Excelsior, het tydens die uitstappie sy lewe in die Gamkarivier verloor.

Volgens vriende was hy en sy pa, Pienie, lief vir visvang. Duwayne kon glo nie swem nie en hy het onder die water verdwyn.

Die res van die geselskap moes toe kilometers ver stap om in Calitzdorp te gaan hulp soek.

Polisieduikers kon eers die volgende dag die lyk uit die water haal.

Die slagoffer se ma, Magdalena, was gebroke toe Son haar gaan besoek het.

Sy vertel: “Ek mis hom reeds. Hy was ’n lieflike kind. Gehoorsaam of ongehoorsaam, ek was lief vir my kind.

Navraag

“Dis nie lekker om sy leë bed elke oggend te sien nie. Dit breek my hart.”

Duwayne is Sondag hier ter ruste gelê.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het by navraag gesê: “ ’n Geregtelike doodsondersoek is begin ná die verdrinking van Du­wayne September, wat in die Gamkarivier verdrink het tydens ’n visvangekspedisie.

“Duikers is ingeroep om te help om die liggaam uit die water te haal. Geen gemene spel word vermoed nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters