14 dae gelede
Uitspraak in verhoor moet wag
UITSTEL: Twee beskuldigdes in ’n moordsaak sal later die uitspraak hoor omdat die tolk laas Woensdag in die hof begin sleg voel het.  ~ Foto Verskaf

DIE uitspraak in die saak van twee mans wat tereg staan vir die moord op ’n 19-jarige matrikulant van Oudtshoorn, moes verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel word omdat die tolk begin sleg voel het.

Dr. Mariëtte Hurst, die laaste getuie in die saak teen Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39), het die outopsie op die slagoffer, Angelo Manewille, uitgevoer.

Sy het getuig sy’t drie uitwendige beserings aan sy liggaam gevind waarvan die steekwond in sy nek sy dood veroorsaak het.

Misnoeë

Manewille het op Saterdag 28 Julie 2018 gesterf toe die twee beskuldigdes hom glo in Springbokweg, Bridgton, aangeval het.

Streeklanddros Sylvia Mandla was verlede week reeds geruime tyd besig met haar uitspraak toe die tolk aandui sy voel nie lekker nie.

Dit het gevolg nadat die landdros haar misnoeë daai oggend uitgespreek het oor die tekort aan tolke by die hof en oor sy talle sake weens die afwesigheid van ’n tolk moes uitstel.

Uitspraak in die saak teen Manel en Nagel word op 14 September hervat. Hul borgtog van R1 000 en borgvoorwaardes is tot dan verleng.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters