Verlede maand
Uitge-pit na nog honde aanvalle
Bekommerd: Christine Valentyn, Felicity Flippies en Anna Abrahams wil die hond uitgesit hê.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Varkhonde wat losruk van kettings laat die inwoners in vrees. Die wrede dood van twee honde, een in Bergsig en een in Nissenville, laat hulle nou nog sidder.

Anna Abrahams, ’n ooggetuie, vertel: “Daai kleine huishondjie van broer William Blaau het laas week verby oom Floors se huis geloop.

“Toe ruk sy varkhond los en sak op die onskuldige hondjie af. Die hondjie is buite die jaart doodgebyt en toe by die jaart ingesleep waar die varkhond hom verder verskeur het. Ek gril eintlik!”

Felicity Flippies voeg by: “Ons kan nie eens meer saans daar stap nie. Wat as dit ’n kind was? Ons is nie kwaad vir oom Floors-hulle nie, maar daai diere hoort nie in die gemeenskap nie. Hulle moet uitgesit word.”

Terg

Blaau sê hy los maar die saak daar, want hy wil nie moeilikheid hê nie.

Christine Valentyn noem hulle is nie gerus ná die voorval nie.

Maar Floors Ewerts sê: “Die hond het maar net daai dag uit sy slot om sy nek losgeruk.

“Jy kan self sien die hond is vas en die hekke is toegemaak. Dis jammer, maar die kinders terg ook die hond.”

In Ladismith moes die in­woners ook bontstaan ná ’n pit bull-aanval.

“Daai pitty wou nie los nie. Hy’t daai hond verskeur. Die mense het met hamers en stokke geslaan, maar kon nie daai hond se lewe red nie,” vertel Jannie, ’n ooggetuie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters