Verlede maand
Twee voor vir tenderbedrog
Twee voor vir tender bedrog
Twee voor vir tender bedrog  ~ Verskaf

DIE verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk en begunstigdes benadeel het, gaan op 9 Julie voort.

Die staat beweer Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departement van landbou op die Oudtshoorn-proefplaas, en sy vrou, Johanna, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, is tussen 2006 en 2008 bevoordeel met die toekenning van tenders.

Miljoene rande is by die saak betrokke.

Egtheid

Rabie, wat steeds onder kruisverhoor is, ontken egter dat hy sy vrou se besighede bevoordeel en die staat daardeur benadeel het.

Rabie ontken verder die egtheid van die getuienis van Demornëy en Johan Wicomb, ’n pa en seun van Matjies­rivier.

Die Wicombs het getuig dat Rabie hulle met ’n bakkie van die departement vervoer het na Zoar, waar hulle vir Attaqua gewerk het.

Volgens hulle het Rabie self die sweiswerk gedoen met die aanlê van ’n pypleiding in Matjiesrivier.

Hoogte

Oor ’n boomplantprojek by die Hoërskool Ladismith ontken Rabie ook die getuienis van Dawid Jacobs en Charles Salman. Dié het getuig dat die boompies wat aangeplant is, te klein was en die besproeiingstelsel nie effektief gewerk het nie.

Die staatsaanklaer Hyron Goulding het dit aan Rabie gestel dat sy vrou luidens getuienis nie eens op hoogte was met die boomaanplanting nie omdat hy ál die werk self gedoen het.

Goulding het dit aan Rabie gestel dat hy gaan betoog dat hy fisiek en dus onreëlmatig betrokke was by betrokke projekte van sy vrou se beslote korporasies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters