10 dae gelede
Twee laat wiel met ’n klomp kaas
OP EN WAKKER: Konstabels Quehwin Malgas (links) en Rayno Harmse met die kaas wat die vermeende diewe gehad het.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Ladismithers roem daarop dat die beste kaas in die wêreld in hierdie Klein-Karoo-dorpie gemaak word.

Dis presies wat twee vermeende kaasdiewe geweet het toe hulle hierdie wêreldbekende lekkerny probeer steel.

’n Bron vertel: “Twee ouens het getry om kaas in ’n emmer of drom te versteek, maar om daai tyd van die nag in Noordstraat te loop en dan te verwag die cops sal jou uitlos as hulle jou gewaar, is wensdenkery.

“Want toe die cops die manne gewaar, toe vat die kaas­koppe gat en in hul haas om weg te kom, is die emmer in die bosse gegooi.”

Opgetel

Dis toe dat twee wakker bloues, konstabels Quehwin Malgas en Rayno Harmse, die diewe agternasit en aankeer.

“Stert tussen die bene is hulle toe geneem na waar hulle die buit weggegooi het en daar ontdek die cops toe dis bekendste produk in Ladismith.

“Toe spin die ouens die storie dat hulle die kaas by die gholfbaan opgetel het!”

’n Backdoor-kaas staan hier bekend as ’n Boy George, ’n wiel, ’n CD, geles of ’n ou rooies.

AO Jannie Cedras, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Twee mans van onderskeidelik 26 en 38 jaar is aangekeer en aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

Lt.kol. Pauline Kriel, die stasiebevelvoerder, het die konstabels bedank vir hul oplettendheid.

Die twee vermeende diewe verskyn binnekort in die plaaslike hof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters