2 maande gelede
Twee is trots op hulle eie Nkandla
ons s’n: Hendrik le Roux spog met sy eie Nkandla. Foto’s: MPUMI KIVA  ~ 

OUDTSHOORN. – Home sweet home.

Dis sy eie Nkandla in ’n brandarm plakkerskamp in Bongolethu, Oudtshoorn.

Maar anders as onse voormalige prez s’n is Hendrik le Roux se Nkandla nie R246 miljoen werd nie.

Daar is ook nie ’n firepool, ’n hele paar eggenotes, deftige hoenderhokke en heinings nie.

Nee, Le Roux se Nkandla is vol liefde met een vrou en twee slaapkamers.

Le Roux het egter die shack op steroids gesit met planke en sinkplate. Le Roux (44) is eintlik ’n plumber van beroep wat oorspronklik van Pretoria is.

Hy kry kort-kort casual jobs wat die pot vir hom en sy girlfriend, Johanna Gelant (43), aan die kook hou.

Le Roux kom uit ’n klein, konserwatiewe Afrikaanse gesin. Hy het uit die binneland gewyk op soek na groener weivelde en toe só in die Suid-Kaap beland.

Le Roux smile as hy sê: “Ja, ons twee noem ons huis Nkandla. My wit familie het ’n plaas en ’n groot huis, maar hierdie is my huis.”

Intussen is die paartjie op die behuisingswaglys en hoop en bid om ’n RDP-huis te kry.

Le Roux erken: “Kyk dis nie maklik om in shack-land te bly nie. ’n Mens het nie die basiese wat jy kort nie.

“Elkeen droom seker oor sy eie Nkandla, maar dan moet ’n mens dit op die regte manier kry.”

Vir hom is dit belangrik dat ’n mens jou eie stukkie grond moet besit, maar dit bly ’n droom oor die ekonomie so knyp.

Verstom

Gelant sê sy staan by haar partner, wat so goed vir haar is.

Sy sê: “Ons bly hier saam met baie ander families. Al is hy wit, het hy gou verstaan hoe dinge hier werk.”

Buurman Desmond Martinus is verstom dat sy bure hulle huis Nkandla noem.

Hy sê: “Dis dan nie so nice soos Zuma se paleis nie.”

Hy voeg by die couple is nice en dat dit seker maar liefde is wat ’n plek Nklandla maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters