Verlede maand
Twakblare nuwe rookgoed
Nie te lekker: Hierdie tabakblare word deesdae in sigaar­agtige rookgoete omskep.Foto: keith meyer  ~ 

SKURKE buit nou die nood van rokers in hul voortdurende soektog na entjies in die hele Kannaland uit.

En met entjies wat by die week duurder raak – tot R200 vir ’n pakkie snaakse-naam-entjies – het skurke nou glo ’n goedkoper alternatief – tabakblare.

’n Bron, ook ’n roker, vertel: “Daar is so twee weke gelede ingebreek op ’n tabakplaas in Groenfontein.

“Daar is glo sakke en sakke tabakblare gesteel. Wat die ouens nou doen is, hulle was daai tabakblare eers goed af.

“Dan hang hulle dit soos waslappe aan die drade en net voordat hulle heeltemal droog is, word dit nog twee keer uitgewas.”

As die tabakblare die derde keer gewas word, word dit met ’n skêr in kleiner stukkies geknip.

Gal

Dan word dit fyngemaal totdat dit amper soos sigarette se inhoud lyk.

’n Ingeligte het bygevoeg: “As dit nie soveel keer gewas word nie, is dit gal.

“Boetietjie, dis so bitter soos gal. Bleddie sterk.

“Maar as dit reg behandel word, smaak hy soos sigare, ou maat.”

Son het verneem dié “nuwe rookgoed” word in bankies teen R10 stuk verkoop.

Daar is na bewering ook ’n middelman wat hierdie goedkoper rookgoed-alternatief na afsetpunte in ál die dorpe in Kannaland vervoer.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê: “Tot op hede is daar nog geen formele klagte rakende die beweerde diefstal van tabak aangemeld nie.

“Die polisiestasie is wel bewus­ van sulke gerugte wat die ronde doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters