5 maande gelede
Tragiese ongeluk eis die pa van vyf
ongeluk: Die toneel waar Adam Bezuidenhout (46) gesterf het. Foto: CLIVE PRETORIUS  ~ 

SWELLENDAM. – ’n Middeljarige man van dié dorp het Maandagmiddag tragies gesterf toe hy en sy fiets in die hoofweg onder ’n lorrie beland het.

Adam Bezuidenhout (46), ’n pa van vyf kinders, was op sy fiets toe hy verby ’n stilstaande Volvo- stasiewa gery en die bestuurder die deur oopgemaak het. Bezuidenhout is glo gestamp en ’n vragmotor het oor hom gery.

Hy is op die toneel deur ambulanspersoneel dood verklaar.

Binne minute was daar ’n groot skare, insluitende ’n jare lange boesemvriend en gemeentelid, Heinrey Thompson, wat eerste by die oorledene was om vas te stel hoe seer hy gekry het.

Thompson het erg bewoë op die toneel hul pastoor gebel om hom die nuus mee te deel. “Ek kon sien Adam het dit nie gemaak nie. Dit was ’n geweldige slag,” het Thompson hartseer vertel.

Bezuidenhout se vrou, Fiona, was binne enkele minute saam met hul babaseun, Gabriel (2), op die toneel, asook hul twee dogters, Annelise en Tessa Slingers, wat in die dorp werk.

Bezuidenhout is beskryf as ’n lojale en hardwerkende gemeentelid van die Emmanuel Pinkster Bediening. Hy was ook die koster van die kerk.

Die polisie ondersoek ’n klag van manslag.

Benewens Fiona, Annelise, Tessa en Gabriel laat Bezuidenhout nog ’n dogter, Audrey, en seun, Joshua, agter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters