3 maande gelede
Titus se lawyer wil onttrek
Magdaleen Titus  ~ 

DIE verhoor van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn word vandag hervat met die getuienis van die ondersoekbeampte, AO Martin le Roux.

Die saak is op Woensdag 15 Mei deur regter Nolwazi Boqwana uitgestel. Dit was sodat Magdaleen Titus, vrou van die vermoorde soldaat en na bewering die baasbrein agter die moord, haar lawyer, adv. Mustaque Holland, kan betaal.

Holland het die hof meegedeel dat Titus hom nie al sy geld betaal het nie en hy haar nie verder kan verteenwoordig nie.

Titus het hom egter nou die versekering gegee dat sy hom teen Vrydag 24 Mei sou uitsort en hy dan kan voortgaan om haar te verteenwoordig.

Teleurstelling

Titus het voor die aanvang van die dag se hofverrigtinge om regshulp aansoek gedoen, maar was onsuksesvol omdat sy as gevolg van haar verdienste nie daarvoor kwalifiseer nie.

Sy is steeds ’n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit.

Boqwana het haar diepe teleurstelling oor die huidige situasie uitgespreek en gesê dat die saak die staat derduisende rand uit die sak jaag en dit onaanvaarbaar is om nie met die verhoor te kan voortgaan nie.

“Daar moet ook nie buite rekening gelaat word nie dat een van die beskuldigdes Justice Mooi, in aanhouding is,” het die regter gesê.

Die ander beskuldigdes is Masithembe January en Natasha Stuurman.

Preston Titus is die aand van 4 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis in Oudtshoorn vermoor. Hy is 27 steekwonde toegedien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters