12 dae gelede
Tikkoppe neem toe weerwraak
Stryd: Lenna Kortjé en ander inwoners sê water word onnodiglik vermors.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. Tikkoppe het uit weerwraak talle water­-sites gevandaliseer nadat inwoners glo een van hul maters behoorlik pak gegee het.

Inwoners het die vermeende druggie glo afgeransel nadat hy daarvan beskuldig is dat hy by ’n shack in die Kanaalweg-plakkerskamp ingebreek het.

Meer as sewe gemeenskaplike krane is toe beskadig sodat inwoners nou vurke en skroewedraaiers moet gebruik om water uit die krane te kry.

Die herrie het Saterdag losgebars toe inwoners die 21-jarige dief op heterdaad betrap het.

Inwoners het die vermeende dief geskop en geslaan en hom daarna kaalstert deur die gemeenskap laat paradeer.

Hy is gered deur ’n patrollie-eenheid wat op die commotion afgekom het.

Die volgende dag het inwoners wakker geskrik met hul krane wat beskadig is.

Lenna Kortjé, ’n inwoner, sê al manier hoe hulle nou water uit die krane kry, is met ’n vurk of ’n skroewedraaier.

Sy sê: “Ál die water-sites is beskadig en niemand is hieroor gebodder nadat die tikkoppe die krane afgesteel het nie.”

Edmond Julies sê dis nou ’n struggle soos min om die krane sonder hul koppe oop te kry.

’n Gemeenskapsleier, Neville­ Smith, sê hulle gaan nou ’n versoek aan die munisipaliteit rig om die beskadigde krane te herstel.

Spaar­saam

“Die krane het nie meer koppe nie en die water loop oral uit.

“Ons is gesê om spaar­saam met die water te werk te gaan, maar die way hoe dinge nou lyk, sit ons een van die dae sonder water,” laat Smith hoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters