13 dae gelede
Tik-tok, SAPD se tyd is uit
VERHEUG: Jackson Tok het darem nie onder die wiele van geregtigheid beland nie.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Jackson Tok (58), ’n inwoner van Nissenville, is in vlak 5 van die lockdown erg verneder.

Cops het Tok langs ’n polisie-vên se agterwiel gedwing om sy eie brousel skomfaan uit ’n plastiekemmer te drink.

Die video van die voorval het in Mei viral gegaan.

Op die video kan ’n gelag in die agtergrond gehoor word.

Iemand sê dan: “So smaak die mense nog in die nag skomfaan drink.

“Daai vark drink nog.”

Dan sak Tok af: “Hy’s bitter, jong.”

Tok het beweer hy is gedwing om in die cop shop nóg van die brousel te drink totdat hy opgegooi het.

Hy is toe na bewering in die ribbes geskop.

Volgens Tok het die cops eers geweier dat hy ’n saak teen die betrokke polisielede aanhangig maak.

Dít het eers gebeur nadat ’n gemeenskapslid Tok dokter toe geneem het sodat die arts ’n J88-vorm kon invul. Die saak is by die polisieombudsman en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld.

Nou het justice uiteindelik Tok se kant toe gedraai.

Hy het hierdie week ’n brief van die Wes-Kaapse ombudsman ontvang.

In die brief skryf die ombudsman: “ ’n Voorlopige ondersoek is gelas na die bewerings en wangedrag is gevind aan die kant van die lid/lede van die Ladismith-SAPD.

“Die bevinding is aan die provinsiale kommissaris van die SAPD gekommunikeer.”

Tok sê hy voel beter nadat hy die brief ontvang het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters