11 dae gelede
Sy nalatenskap is onmeetbaar
GROOT SEDER: Huldeblyke bly instroom vir die ontslape meester dr. David Piedt.  ~ Rapport

OUDTSHOORN. – Onverskrokke vryheidsvegter vir die “agtergelostes”.

Dis van die komplimente wat uit onderwys-geledere instroom vir die legendariese dr. David Piedt (80), wat Maandag aan Covid-19 gesterf het.

Piedt was in onderwyskringe bekend vir sy konsensus-versoenende Mandela-benadering.

Piedt is ’n nasionale figuur – ’n bestuurslid van die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO) en president van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM).

Hy sal veral onthou word vir sy slogan “No liberation without education” gedurende die onderwys-struggle in die 1980’s.

Die destydse veiligheidspolisie het Piedt so geharrass dat dit hom verhinder het om vroeër ’n prinsipaal-pos te bekom.

Op sy gradeplegtigheid by die Universiteit Stellenbosch is sy sending “Goeie Onderrig Moet Apartheid in die Klas­kamer Verslaan” gemeld.

Danie van Wyk, bestuurder van die Onderwys-ontwikkelingstrust ( OOT) sê: “ ’n Man der manne; mentor en rolmodel. Ek beskou hom in die woorde van die gedig (Trou deur Jan FE Cilliers): ‘Ek hou van ’n man wat sy man kan staan.../ ’n Oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk...’ ”

Piedt was bekend as heavy intellectual en debatvoerder en orator van formaat. Die humor in sy toesprake het selfs sy vyande laat skater van die lag.

Aanslag

Japie Lewis, oud-skoolhoof en KPO-bestuurslid, sê: “My vriend was ’n diep gelowige mens. Hy het ’n diepe meegevoel vir die minderbevoorregtes gehad. Sy woord ‘agtergelostes’ sal in die annale opgeteken staan.”

Daar was selfs ’n aanslag op sy lewe, maar dit het nie sy verbintenis tot versoening verander nie.

Hy was ook instrumenteel in die struggle om die Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK), wat destyds gesluit is, weer operasioneel te kry.

Jerome Biljohn, ’n onnie wat lid van die vakbond Sadtu is, sê: “Ons moes elke aand nuus kyk en bewaar jou agterent as jy die nuus die next dag nie aan meester David kan vertel nie.”

Piedt se nalatenskap kan opgesom word met sy siening: “Ek staan nie vir die bevoordeling van die voorheen benadeeldes nie, maar vir die bemagtiging van die voorheen benadeeldes.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters