3 maande gelede
Studentemakietie
Ou klasmaats: Agter van links staan Clive Swem, Johan “Kiepie” Cupido, Jim “Jimbo” Simons, Johannes “Spook” van Wyk, Winston “Winnie” Coerecius, Nico “Degie” Louw, Andrew “Kap” Jagers, John “Oubaas” Tyers, Matthew “Fillo” Fillis en Jeremia “Jerry”/“Febs” February. Voor sit Albert “Kef” Louw, Paul “Pollie” Cloete, Johannes “Pan” Muller, Gert “Dok” Schroeder, Peter “Ghoems” Goeda en Thys Orren. Foto: Garnett Wicomb  ~ 

NÁ ’N halfeeu was die studentemaats weer saam.

Die laaste 16 oud-Vollies van die 1969-klas en hulle gades het onlangs hulle 50-jaar-reünie by die vakansieoord De Hoek gehou.

Die 16 stuks het almal geswot aan die Bridgton-opleidingskollege in Oudtshoorn (later die Onderwyskollege Suid-Kaapland).

Van die klas van 47 is 31 reeds oorlede. Die manne en hulle gades het van Vredenburg, De Aar, Oudtshoorn, Hopefield, Piketberg, Worcester, Kraaifontein, Saron, Port Elizabeth, Cradock, Kimberley, Potchefstroom en Pretoria gekom.

Die naweek is met potjiekos ingewy. Saterdag is ’n snoek oor die kole gegooi en die tydgenote het lekker geskerts oor hulle kol­legedae.

Die Saterdagaand is ’n groot geselligheid gehou. Almal was in formele drag uitgedos vir die amptelike 50ste herdenking van hulle kameraadskap.

Muriel Goeda van Port Elizabeth het ’n spesiale koek laat maak. Dit het die kollegewapen opgehad en ’n foto van almal wat in 1969 eerstejaars was.

“Terwyl ons vir die puik driegangmaaltyd aangesit het, het elkeen ’n kort opsomming van hulle loopbaan oor die afgelope 48 jaar gegee.

“Dit was insig­gewend, interessant en mee­lewend,” het Johannes van Wyk gesê.

Die hoogtepunt van die naweek was ’n dankseggingsdiens. Van Wyk het dit gelei met die tema “Ter Ere van Vriendskap”.

Beatie Louw het ’n kers ter herinnering aan die 31 gestorwe klasmaats aangesteek en Albie Louw het ’n huldeblyk aan hulle gelewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters