3 maande gelede
Stink baklei oor lyk
ANDER KANT: Jan Botha sĂȘ hy het nie aan sy kant enige foute gemaak nie.  ~ 

OUDTSHOORN. – Jan Botha oorweeg regstappe teen ’n familie wat hy voel sy naam deur die modder sleep.

Die eienaar van Botha Begrafnisdienste sê ’n familie beweer hy het ’n lyk nie behoorlik versorg nie.

Emmet en Maria Damons van 17de Laan, Bridgton, beweer Botha Begrafnisdienste het nie die lyk van Maria se broer, Dawid Veldsman, na behore versorg nadat hy dit van die polisie se forensiese afdeling ontvang het nie.

Veldsman (50) is op 25 Maart oorlede en sy liggaam is op 29 Maart in ’n plastieksak aan Botha Begrafnisdienste oorhandig.

Dié het die lyk toe na die lykshuis van Inter-Church Funerals in Aalwynhof geneem omdat die onder­neming nie ’n eie lykshuis het nie. Volgens Emmet het Botha die familie toe meegedeel hy kan net die begrafnis doen as hulle R5 000 opdok omdat die begrafnisboekie meer as twee maande agterstallig was.

Tog het hy na bewering R10 000 van die onderskrywer ontvang.

“Ons het nie R5 000 gehad nie en is na twee ander begrafnisondernemers, wat ons vir R1 500 kon uithelp,” sê Emmet.

Botha wou toe glo ook R1 500 hê vir die “uitkoop van die liggaam”. Die familie kon R1 100 bymekaarskraap. “Toe ons die deur van die lykshuis oopsluit, moes ons uithardloop weens die stank en maskers gaan soek,” sê Emmet. Sy swaer se bebloede liggaam was volgens hom steeds in die plastieksak. “Die lyk was nie eens afgewas nie,” sê hy.

Die familie het maar voortgegaan met die begrafnis omdat Veldsman reeds 14 dae dood was.

Botha sê die bewerings is vals en sê hy het nie R10 000 van ’n onderskrywer ontvang nie. Dat hy agtelosig was, is volgens hom ook van alle waarheid ontbloot.

Volgens hom het die Damons-familie in Januarie ’n betaling vir Oktober verlede jaar gemaak en belowe om daarna elke maand twee paaiemente te betaal, wat hulle nie gedoen het nie.

“Die polis was dus nie opbetaal nie,” vertel Botha.

“Ek het ingestem om die begrafnis te doen vir R3 000, nie R5 000 soos wat beweer word nie. Hulle het ander begrafnisondernemers genader.”

Botha sê dié ondernemers moes die liggaam kis, maar het dit nie gedoen nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters