3 maande gelede
Stel hom vry!
Wagtend: Inwoners wag vir die minister van die polisie, Bheki Cele. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

DIT lyk of inwoners van Zwelihle bedaar het ná nóg ’n wilde nag van tyres brand en klippe gooi.

Volgens Hermanus se gemeenskapspolisiëringsforum het die betogers rustiger geword ná ’n meeting wat gister omstreeks 14:00 by die taxi rank gehou is.

Die meeting het ná die hofverskyning van Gcobani Ndzongana (35) plaasgevind.

Ndzongana het op klagte van openbare geweld verskyn. Sy saak is oorgeplaas na die landdroshof in die Strand, waar hy vandag sal verskyn.

Woensdagaand het die polisie traangas gespuit en rubberkoeëls geskiet om betogers wat by Swartdamweg byeengekom het, uit mekaar te jaag.

Hermanus loop die laaste tyd deur onder gewelddadige betogings waardeur skade van R40 miljoen gely is.

Die inwoners het eers betoog vir dienslewering en huise, maar dit blyk hulle betoog nou vir die vrylating van Ndzongana.

Die minister van polisie, Bheki Cele, en sy spesiale adviseur, Lennit Max, asook die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en Dan Plato, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, sal na verwagting vandag die Overstrandse dorp besoek.

Na verneem word, sal die vergadering van 14:00 by die sportterrein in Zwelihle plaasvind.

Riana Steenekamp, woordvoerder van die Overstrandse munisipaliteit, sê hulle hoop dat die besoek vrugte sal afwerp.

“Sodra die gebied stil en gestabiliseer is en die polisie die gebied as veilig bestempel het, sal ons weer dienste in die gebied voortsit,” sê sy.

Die R43-pad wat Woensdag as ’n voorsorgmaatreël gesluit is, is gister weer vir verkeer geopen.

Alle ingange na Zwelihle bly egter nog gesluit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters