2 maande gelede
Steenoonde se mense soek warmte
NIE LEKKER: Mense wat in die koue steenoonde bly, sê hul begeerte vir ordentlike huise word net in die verkiesingstyd as ’n geelwortel gebruik.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Hulle woon nou al lank in die ou steenoonde en die huidige gure weer laat hulle smeekroep nog duideliker opklink.

En ál wat dié gesinne verlang wat langs die R62 op die Calitzdorp-pad woon, is eers net krag. Maar hulle wil graag ook hul eie huise hê.

Glanville Arries, wat boonop sukkel met ’n ID, sê hy wag al twee dekades op ’n huis.

“Maar ons is nie demanding nie. Al kry ons net eers krag hier by die steenoonde, dan sal ons daarmee ook tevrede wees. Vir die winterweer.

Water

“Dis maar moeilik om kos gaar te maak en warm te kry, veral as dit reën soos nou. Ons het darem water. Ons deel dit met die mense wat hier agter met varke boer.”

Jannie Jacobs, wat ook hier woon, begeer ’n huis waarop hy trots kan wees.

Samuel Timba is in trane: “Ek wil so graag my gesin in ’n regte huis grootmaak. Ek is al 15 jaar op ’n waglys.

“Ek bid dat die behuisingsmense eers na die steenoonde se mense sal kyk.”

Ronnie Volmink, ’n leerder in graad 8, sê: “Ek moet saans by kerslig leer. Ek wil ook my maats na ’n mooi huis toe nooi.”

Intussen vul die politieke partye glo weer flink behuisingsvorms in.

Gekla

“Dit doen hulle mos net elke vyf jaar. My stem is nie met ’n belofte te koop nie.

“Ons soek die ware Jakob,” het nog ’n steenoonder gekla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters