19 dae gelede
Sport dié faktor wat jeug kan help
INSPIRASIE: Die groep jong mense is sommer baie bly dat hulle kan deelneem.  ~ Keith Meyer

VAN WYKSDORP. – Die dorp is besig om uit die stof op te staan nadat drie jong mense selfmoorde gepleeg het.

Die tyd van praat is nou omgesit in ’n tyd van doen.

Inwoners is nou vasberade om die jeug deur sport konstruktief aan die gang te hou.

Die dorp se Jobs for Carbon-organisasie is hard aan die werk om individue en groepe byeen te bring om idees te vorm wat die jongelinge positief kan beïnvloed­.

Die polisie het ook ingekoop en is deel van ’n praktiese benadering deur sportaktiwiteite aan te bied.

AO Jannie Cedras help met tennis en sers. Janice Jantjies met toutrek en rugbyafrigting.

Cedras, gemeenskapspolisiebeampte, sê: “Sport is die gemene deler. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde verstand.”

Die eerste groot sportdag is reeds op die dorp se sportveld aangebied.

Maar dis ook tennis wat groot byval gevind het.

Cedras voeg by: “Die jong mense is honger om te leer. Aan talent is daar geen gebrek nie. Dwelms en alkohol, wat die bekende vyand is, kan die jeug van ál hul drome beroof.”

Die volgende sportbyeenkoms is op 21 November. Ouers en ander volwassenes gaan ook betrek word, aangesien ouers saam met hul kinders moet groei.

Die sportrade wat deur die munisipaliteit in werking gestel moet word, kan help om fondse te bekom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters