25 dae gelede
Spaza-pryse vir krag skok kopers
peperduur: Kragpryse by sommige spaza shops ruk die inwoners se sak.Foto: KEITH MEYER  ~ 

BLIKWINKELS se krag is peperduur en hou net ’n dag en ’n aand. Dan is dit op.

Só kla inwoners van Calitzdorp wat dikwels genoop is om hulle krag by die plaaslike blikwinkels te koop.

Volgens die inwoners vra sommige eienaars tot R2 op elke R10 se kragaankope.

Dirk Abrahams kla: “As ek R10 se krag koop, moet ek R12 betaal; of hulle trek sommer R2 af en dan kry ek net R8 se krag. En weet jy hoe min units kry ’n mens vir R10? Jy kan nie eens waag om ’n ketel aan te sit nie.”

Wintertarief

Die inwoners is die hel in en dreig om die blikwinkels te boikot “totdat hulle bankrot is”.

Wintertye is die plaaslike krag duurder omdat daar ’n winter­tarief op kragaankope gecharge word.

Sommige inwoners sê daar is selfs winkels wat tot R5 op R10 se krag wil hê.

“Dan moet jy maar so van winkel tot winkel shopping tot waar jy maar weer ’n R2 ekstra moet betaal. Anders is dit nag. Amper soos load shedding se donkerte,” kla ’n huisvrou.

Ene Abbi, eienaar van ’n blikwinkel, verduidelik swaar dat hulle ook ’n bietjie wins moet maak op die krag.

Werner Meshoa, raadslid van die plaaslike munisipaliteit, het lig op die saak gewerp: “Ek is bewus daarvan. Maar toe ek gaan krag koop, het ek geweier om ekstra te betaal.

“Nersa is duidelik dat dit ’n kriminele oortreding is.

“Ek weier om ekstra op die krag te betaal. Ek raai inwoners wat dit oorgekom het, aan om ’n kriminele klag te gaan maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters