Verlede maand
Son bak nie meer hierdie sport-fans
trots: Slangrivier se mense is baie opgemaak met hul nuwe paviljoen. Foto: CLIVE PRETORIUS  ~ 

SLANGRIVIER. – Nóú kan dié dorp se mense ook voel hoe dit voel om op ’n pawiljoen te sit.

Sportliefhebbers in dié dorp kan van nou af baie lekker op ’n pawiljoen sit en hul helde dophou.

Dié state-of-the-art fasiliteit is in ’n rekordtyd voltooi en is onlangs amptelik deur die Hessequa-munisipaliteit en Wes-Kaapse regering aan die inwoners van die dorp oorhandig.

Die verrigtinge is deur verskeie raadslede, onder wie Grant Riddles, Hessequa se uitvoerende burgemeester, bygewoon.

Onder die sowat 60 mense wat die verrigtinge bygewoon het, was Desmond Hoogbaard, voorsitter van die Arrows-rugbyklub, en Nicholas Pietersen, tesourier, asook verteenwoordigers van die nuutgestigte netbalklub, die Kerskoor en krieketklub.

Lilian February en Caroline Skietekat, albei voormalige raadslede en lede van die wykskomitee, het dit ook bygewoon.

Blydskap

Die Krismiskoor Loving Shepherds het die aanwesiges op hul musiek trakteer.

Riddles het die bedankings gedoen en sy blydskap kon duidelik op sy gesig bespeur word. Hy het alle rolspelers wat hul deel bygedra het om die projek suksesvol af te handel, hartlik bedank.

Nuwe balle is ook aan die verskeie sportkodes oorhandig voordat hulle saam met die res van die aanwesiges die kleedkamers onder die pawiljoen gaan besigtig het.

Die aanwesiges is ook ná die verrigtinge met heerlike plaaslike versnaperings bederf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters