3 maande gelede
Snooze en jy lose
Magdaleen Titus
Magdaleen Titus en stafsers. Preston Titus.  ~ foto verskaf

DIE Preston Titus-moordverhoor is Woensdag in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn tot Mei uitgestel.

Daar is talle redes waarom die saak teen Magdaleen Titus, Justice Mooi, Natasha Stuurman en Masithembe January nie dadelik kan voortgaan nie.

Die vier staan tereg vir die moord op Magdaleen se man.

Die saak het ’n suur klankie gekry toe familie van Magdaleen en ander hof­gangers, meestal ondersteuners van die vermoorde soldaat se familie, stry gekry het oor sitplek in die voorste hofbank.

Magdaleen se susters het elke dag in die voorste bank gesit en Preston s’n in die tweede bank. Toe die susters laat opdaag, was hulle hul ge­wone sitplek kwyt.

Harde woorde het geval, maar Preston se mense het net bly sit en nie deelgeneem aan die bekgeveg nie.

Die hofordonnans en ’n security guard het vergeefs probeer om orde te handhaaf. Dit het ’n tydjie geduur voordat almal tot bedaring gekom het.

Dít alles het geskied terwyl die staatsaanklaer en die beskuldigdes se regsverteenwoordigers in die kamers met regter Nolwazi Boqwana oor die dag se probleme beraadslaag het.

Toe die verrigtinge begin, het die staatsaanklaer, adv. Chris van der Vijver, die hof vir uitstel gevra.

Die landdroskantoor se kragopwekker het Dinsdagmiddag die gees gegee.

Tydens beurtkrag sou daar nie krag wees nie.

Van der Vijver wou ook uitstel hê omdat dit volgens hom sin maak dat die ondersoekbeampte, AO Martin le Roux, eers in die volgende beskikbare hoftyd verder getuig. Die kruisondervraging kan daarna geskied.

Boqwana het verskoning gevra vir die situasie.

“Almal wil sien dat die saak afgehandel word, maar weens die stukkende kragopwekker is dit nie vandag moontlik om voort te gaan nie,” het die regter gesê.

Sy het ook gemeld Mooi se regsverteenwoordiger, adv. Stoffel Prinsloo, sukkel erg met ’n seer keel.

“Dis vir die hof ’n prioriteit om die saak af te handel,” het sy beklemtoon.

Die saak sal op 13 Mei hervat word.

Magdaleen, Stuurman en January se borgtog is verleng. Mooi bly steeds in aanhouding.

Sixabiso Klip is reeds gevonnis vir sy aandeel aan die moord op die soldaat.

Buite die hofgebou het Magdaleen se familie en ondersteuners van Preston se mense weer woorde gehad.

Een van Magdaleen se familielede het selfs gedreig om Klip se ma te klap.

“Hulle is lelik,” het Klip se ma agterna gesê.

“Hulle weet die skuldiges gaan tronk toe.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters