Verlede maand
Smous moet loop ná 30 j.
HY MOET WAAI: Ná 30 jaar is oom Dawie en sy stalletjie nie meer welkom nie.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Die dorp se bekendste vrugte-en-groentesmous, Dawie Witbooi, moet ná byna 30 jaar op dieselfde spasie in Hoogstraat plek maak vir ’n ingang na ’n nuwe wegneemeetplek wat buitelanders daar wil begin.

Oom Dawie, soos hy by almal bekend is, sê hy is diep geskok in die plaaslike munisipaliteit en weet nie wat hom te doen staan nie.

Intussen is hy besig met ’n petisie wat sy klante­ teken om die munisipaliteit tot ander insigte te laat kom.

Die gemeenskap is omgekrap en sê in die sosiale media Oom Dawie gaan net mooi nêrens nie.

Volgens Witbooi het hy ’n skrywe van die munisipaliteit ontvang waarin hy meegedeel word die munisipaliteit het op 8 Februarie ’n nuwe beleid ten opsigte van straathandelaars aanvaar en daarom is alle vorige permitte op grond van dié raadsbesluit gekanselleer.

Luidens die skrywe sal alle handelsruimtes in die Groter Oudtshoorn vir ’n jaar oop wees en beskikbaar vir diegene wat daarvoor aansoek wil doen.

Stalletjie 63, Witbooi s’n, sal egter nie weer geadverteer word nie omdat dit privaat eiendom is en die eienaars die spasie wil gebruik vir die opgradering van die bestaande winkel se ingang.

Witbooi word in die brief versoek om in ooreenstemming met die raadsbesluit en “verbetering van deursigtigheid” aansoek te doen vir enige afge­bakende spasie vir oor­weging deur die raad.

Hierop sê hy: “Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die munisipaliteit ál die jare my huurgeld ontvang het en nou sê dat dit privaat eiendom is. Dit maak nie sin nie.”

Witbooi is nou al byna 30 jaar op dieselfde plek en het sy vier seuns met sy inkomste laat leer.

In ’n skrywe van Century-eiendomme skryf Ockie Alberts dat die gebou as selfoonwinkel bedryf word en dat die huurder beoog om ’n wegneemete-besigheid daar te open en ’n aparte ingang daarvoor benodig om die twee besighede te skei.

Die spasie wat Witbooi gebruik, is deel van die erf.

Toilet

Volgens Alberts het hy reeds toestemming van die plaaslike erfeniskomitee verkry om die tweede ingang daar te plaas.

Hy word egter deur die groentesmous verhoed om daarmee voort te gaan.

Volgens hom sal die verandering ook verhoed dat die hoek, soos dit tans daar uitsien, nie in die nagtelike ure as toilet gebruik word nie.

Alberts is verlede week beseer toe hy naby die stal­letjie met ’n lid van die publiek in ’n erge struweling betrokke was.

’n Navraag na die plaas­like munisipaliteit is nie beantwoord nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters