Verlede maand
Smous mag maar bly waar hy is
TEVREDE: Daar is nou nie meer issues met oom Dawie Witbooi se staanplek nie.  ~ Garnett Wicomb

’N GROENTE-EN-VRUGTESMOUS van Oudtshoorn, Dawie Witbooi, kan weer breed glimlag nadat die eienaars van die eiendom waar hy sy stalletjie al vir byna 30 jaar bedryf, hom in kennis gestel het dat hy nie meer hoef pad te gee nie.

Witbooi het verlede week ’n skrywe van die Oudtshoorn-munisipaliteit gekry dat hy vir ’n ander spasie aansoek moet doen omdat die huurders van die selfoonwinkel langs sy stalletjie die spasie vir ’n ingang na ’n nuwe wegneem- eetplek wil gebruik.

Witbooi was diep ongelukkig en sy kliënte het tou gestaan om ’n petisie te onder­teken sodat hy kan voortgaan met sy stalletjie.

Aansoek

Volgens Witbooi het die skrywe van die munisipaliteit gelui dat die raad ’n nuwe beleid ten opsigte van straathandelaars aanvaar het en daarom is alle vorige permitte op grond van hierdie raads­besluit gekanselleer.

Luidens die skrywe sal alle handelsruimtes in die Groter Oudtshoorn vir ’n jaar oop wees en beskikbaar vir die­gene wat daarvoor aansoek wil doen. Stalletjie 63, Witbooi s’n, sal egter nie weer geadverteer word nie omdat dit privaat­ eiendom is en die eienaars die spasie wil gebruik vir die opgradering van die bestaande winkel se ingang.

Witbooi het egter dié week ’n skrywe van Century Ver­hurings ontvang waarin hy meegedeel word die eienaars van die perseel, Gilcourt Investments, verleen toestemming aan hom om voort te gaan met sy besigheid soos gewoonlik.

Dis op voorwaarde “dat die perseel skoon gehou word en hy maandeliks R25 aan Khan Cellular betaal omdat die spasie­ onder daardie perseel val.

Witbooi het tot dusver R35 per maand aan die munisipaliteit betaal, wat nou glo agtergekom het dat die spasie die eiendom van Gilcourt Investments is.

Ondersteun

Die opsigter, Ockie Alberts, wens Witbooi alle sterkte toe met die hoop “dat ons nog vele jare saam sal loop”.

Witbooi het gister sy dank teenoor almal uitgespreek wat hom ondersteun het in sy stryd om te bly waar hy op sy gelukkigste is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters