Verlede maand
Skurke wat vrou (85) rob, kry jare
MANG TOE: Twee rowers­ gaan lank sit nadat hulle ’n bejaarde vrou beroof het.  ~ Foto ter illustrasie: son

TWEE mans wat ’n 85-jarige vrou in haar huis met ’n mes gedreig en beroof het, het laas week in die Oudtshoorn-streekhof hul straf gehoor.

Die twee boewe van Ladismith is aan huisbraak en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Hulle het onderskeidelik 8 en 10 jaar tronkstraf gekry.

Joshwill Januarie (19) en Morné Adams (23) het skuldig gepleit.

Hulle het erken dat hulle op 18 Mei vanjaar die agterdeur van Maria Swart oopgebreek en haar van twee potjies lekkers, sleutels, ’n koekmes, selfoon en R900 kontant beroof het.

Skokkend

Toe sy in die kombuis kom, het hulle ’n lemoen in haar mond gedruk en met die koekmes gedreig.

Hulle het haar toe gedwing na die slaapkamer, waar hulle haar selfoon en R900 kontant van haar gevat het.

Streeklanddros Daniel Boks het by vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat twee jong mans ’n weerlose bejaarde vrou in die veiligheid van haar huis beroof en hulle kan bly wees sy is nie ernstig beseer nie.

Boks het in ag geneem dat Januarie en Adams skuldig gepleit het en dat die klaagster nie beseer is nie.

Kwaad

Swart sê egter in ’n slagoffer-impakverslag sy het nooit kon dink so iets sou met haar gebeur nie.

“Ek is baie ongelukkig, hartseer, vernederd, seergemaak en kwaad. Ek los nie meer ’n deur of venster oop nie en is alewig bang en bevrees in my eie huis.”

Sy voel onveilig oor die skurke kan terugkom. Sy lê snags wakker en haar bloeddruk en suiker skiet nou die hoogte in.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters