Verlede maand
Skopper maak allpay glo nopay
kampvegter: Kitty Jacobs is vies oor wat met die arme oom gebeur het. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Toe Koos van Wyk, ’n plaaswerker, onlangs sterf, het sy naasbestaandes nie net met dié sorrow gedeal nie.

Ouma Sanna van Wyk, sy ma, moes behoorlik rondval om Koos begrawe te kry omdat sy Sassa-kaart nêrens te vinde was.

Die inwoners Mona Pokpas en Kitty Jacobs het die saak van naderby bekyk en tot die besef gekom daar is ’n loan shark betrokke.

Jacobs sit altyd handjie by as plaaswerkers begrawe moet word.

Pokpas sê: “Daar was nie geld om Koos se begrafnis te doen nie.

“Maar toe ontdek ons sy AllPay-inbetaling is tien dae ná sy dood alles net so deur ’n moneylender getrek.

“Hy hét geleen. Ons weet nie by wie nie, want dis mos by ’n ATM getrek.

“Dit beteken daai een het sy kaartnommer ook gehad. Maar ons sal nog agter die kap van die byl kom ...”

Weens die tekort aan geld kon daar toe nie dadelik ’n begrafnis gehou word nie.

Jacobs verduidelik: “As Sassa net sal toelaat dat alle begunstigdes eers ’n begrafnispolis uitneem.

“Hulle kan ook mos keer dat loan sharks mense se kaarte hou.

“Dan kan mense darem hulle naasbestaandes ordentlik begrawe.”

Henry de Grass, die waarnemende streekbestuurder van Sassa, sê: “Die enigste aftrekking wat Sassa toelaat, is ’n begrafnispolis gelykstaande aan 10% van die toelaag.

“Geen ander aftrekkings word toegelaat nie.”

Daar is min wat Sassa kan doen indien ’n begunstigde sy kaart aan ’n geldskieter gee. Die kaart behoort egter steeds aan Sassa.

“As die geldskieter in besit van die kaart is, kan die saak by die polisie aangemeld word,” sê De Grass.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters