Verlede maand
Skoonheid in alle groottes
Pragtig: Vinolia Deyce draai die kroon.  ~ Verskaf

MISS Full Figure Garden Route 2021 is die afgelope naweek gekroon.

Die fraaie Vinolia­ Deyce (32) van George het met die kroon weggestap.

Die geleentheid wat voorheen in die Con­ville-gemeenskapsaal gehou is, is vanjaar in die George­ Arts Theatre aangebied.

Carly Adams, die organiseerder, sê vroue van die Suid-Kaap is uit verskillende dorpe gekies om aan dié bekende skoonheidskompetisie deel te neem.

Adams verduidelik dat die kompetisie ’n platform is vir die plus-size dames om hul skoonheid ten toon te stel.

“Waar die kompetisie voorheen in verskeie dorpe gehou is en die topvyf dan deur is na die finaal, het Covid­ dinge bietjie verander,” vertel Adams.

“Elke dorp het drie vroue na die finaal gestuur en vanjaar het ons besluit om die opbrengste aan ’n speelskool in Knysna te skenk.”

Sy sê dis die KEC Primêre Skool in Knysna waar een van die vorige wenners onderwys gee.

Vanjaar se wenner, Deyce, sê die kompetisie was ’n geleentheid om haarself te vier.

Positief

“Dit is ook die eerste keer dat ek deelgeneem het. In die pandemie moet ons almal ’n manier vind om positief te bly en redes te vind om die lewe te vier.”

Vir dié enkelma het dinge in plek begin val nadat sy ’n goeie werk gekry het.

“Dit was ook opwindend om te sien hoe die ander vroue by die kompetisie so gemaklik in hul eie vel is,” vertel Deyce.

Sy sê sy het gehoop om te wen, maar daar was volgens haar so baie goeie kompetisie van al die absoluut wonderlike vroue.

“Ek moet sê die selfvertroue wat ek nou in myself het, het ’n groot rol gespeel. Dit is ’n belangrike les wat ek my dogters wil leer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters