2 maande gelede
Skooltjie kort dringend geld
worry: Mona Pokpas, hoof van Jangroentjie, en Kitty Jacobs, ’n onnie. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Die Jangroentjie-kleuterskool in Jan Fourieskraal is in ’n stryd teen tyd gewikkel.

Die kleuterskool, wat al langer as 19 jaar plaaskinders se baken van hoop is, se deure kan binnekort toeswaai as daar nie dringend befondsing gekry word nie.

Dit sal meer as 50 kinders van plaaswerkers in die opvoedkunde-woestyn laat.

Mona Pokpas, hoof van dié kleuterskool vir plaaskinders, verduidelik: “Ons is aanvanklik deur Social Development gefinansier. Maar sedert Oktober laas jaar het ons nog nie weer geld ontvang nie.

“Ons weier om die kinders aan hulle lot oor te laat.

“Wat ons bekommerd maak, is dat die leerders wat in gr. R is nou met hulle formele onderrigprogram moes begin.”

Kitty Jacobs, ’n onderwyseres, voeg by: “Ons is drie opvoeders wat ook ’n salaris moet ontvang. Ons doen dit nou uit die liefde van die saak.

“Die 18 gr. R’e moet saam met die departement van onderwys se leerders werk.

Satellietkampus

“Dan het ons nog ’n kok en ’n tydelike werker wat van die subsidie afhanklik is.

“Ons het ook al aansoek gedoen om as satellietkampus van die plaaslike laerskool te dien.”

Ouers van die jong bloedjies is baie bekommerd en het nie die geld om die skooltjie op hulle eie oop te hou nie.

Esther Lewis van maatskaplike ontwikkeling sê: “Alle vroeë kinderontwikkeling-sentrums sluit ’n oordragbetalingsooreenkoms met die departement wat kwartaalliks ingedien moet word.

“Die betrokke organisasie het dit nie gedoen nie en die betalings is gestop.

“Die departement het met hulle kontak gemaak en hul state is verlede week ontvang.

“Die oordragbetaling sal nou in Maart gedoen word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters