Verlede maand
Skool kry nuwe naam
pw botha
Die P.W. Botha-kollege in George se naam het verander.  ~ Google Images

DIE P.W. Botha-kollege in George het ‘n nuwe naam. 

Dit ná die beheerliggaam uiteindelik na sy Khoisan-gemeenskap se pleit geluister het.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê daar is na gesprekke met leerders, oudleerders, borge en ouers besluit om die skool se naam na Hoër Tegniese Skool Eden te verander.

Brendon Adams, 'n Khoi-stamhoof, sê hulle verwelkom die naamsverandering met ope arms, maar is wel teleurgesteld dat die skool nie ‘n Khoi-naam gekies het nie.

Hy sê hy het selfs 'n Khoi-woordeboek aan die skool verskaf.

“Ons as Khoi-gemeenskap voel baie sterk daaroor dat ons nie in 25 jaar van demokrasie steeds die naa van 'n apartheids-era president soos P.W. Botha kan vereer nie. Dus was ‘n naamsverandering broodnodig en baie belangrik vir die gemeenskap," sê Adams.

Adams het in 2019 ‘n brief, namens George se Khoi-gemeenskap, aan die skoolbeheerliggam gestuur en versoek dat hulle die naamsveranderingsproses volgens die riglyne van die WKOD dringend moet begin.

Hammond sê die WKOD het op 22 November 2019 ‘n aansoek van die beheerliggaam ontvang om die skool se naam te verander.

Dit is goedgekeur is en is al van 1 Januarie 2020 van krag.

Debbie Schafer,  Wes-Kaapse minister van onderwys, het verlede jaar in ‘n toespraak genoem hoe die departement sterk besig is om gelykheid en inklusiwiteit in skole te verbeter.

“Ek wil 'n beroep doen op enige skool in die provinsie, wat voel die naam van hul skool steeds verteenwoordigend is van 'n apartheidsklassifikasiesisteem in Suid-Afrika, om by die WKOD aansoek te doen om die skool se naam na 'n meer inklusiewe een te verander,” het Schafer toe gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters