Verlede maand
Skok ná Rasta se skielike afsterwe
Gewild: Paulen Alaart se dood het as ’n skok vir inwoners gekom.  ~ FOTO VERSKAF

GEORGE. – Inwoners van Pacaltsdorp is geskok ná die skielike afsterwe van ’n gewilde Rasta.

Paulen Alaart is Dinsdagoggend oorlede nadat hy ’n hele paar dae nie lekker gevoel het nie.

Daar word nou vermoed dat hy weens bloeding op die brein gesterf het.

Alaart (29) was alombekend vir sy groentetuine in die buurt en sy liefde vir perde.

Sy ma, Leah Alaart, het hom beskryf as iemand wat as kind nooit sieklik was nie.

“Dis hoekom dit so moeilik is om te glo wat met my kind gebeur het,” het die hartseer mammie aan Son gesê.

Pyn

Paulen se saamleefmaat van 11 jaar en die ma van sy 3 kinders, Mercia Pietersen, sê hy het laas Donderdag van ’n pyn in sy bors begin kla.

Volgens haar was hy naar en hy kon geen kos inhou nie. Hy het aanvanklik homself met kruie probeer dokter.

Toe dít nie help nie, het hy medikasie probeer, maar dit was te laat.

Paulen se Rasta-broer, Brando Jacobs, sê hy was hul hero.

“Paulen het ’n vullishoop in ons buurt in ’n groentetuin omskep en hy was aktief deel van die Pacaltsdorp-perdeklub.

“Hy het verskriklik baie vir sy gemeenskap gedoen,” vertel ’n aangedane Jacobs.

Lesers wat die familie met die begrafniskostes wil bystaan, kan Mercia kontak by 074 093 9809.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters