22 dae gelede
Seun gestraf ná seks met 9-jarige
'n 15-jarige leerder is skuldig bevind aan verkragting.  ~ Foto: verskaf / ter illustrasie

’N 15-JARIGE gr. 9-leerder van De Rust is in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgeskorte vonnis van ses jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ’n negejarige meisie.

Die seun se ouma maak hom groot omdat sy ma in Kaapstad werk.

Die tienerseun het in ’n pleitverduideliking erken hy en een van sy vriende het die betrokke dag met die meisie geslagsgemeenskap gehad.

Hy het aangevoer dit het gebeur terwyl hulle in die veld naby die De Rust-plakkerskamp gespeel het.

Uitweg

Volgens hom het die meisie hulle gevra “om oulik te doen” en hulle het almal weggehardloop toe haar ma hom op heter daad betrap het.

Die seun se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek om direkte gevangenisstraf net as ’n laaste uitweg te oorweeg.

Maar volgens Nadia Arnolds, die staatsaanklaer, is die beskuldigde die een wat ouer is en van beter moes geweet het.

Hy is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind en tronkstraf moet opgelê word omdat hy ten tyde van die voorval ouer as 14 jaar was, het Arnolds aangevoer.

Sy het egter ook die mening uitgespreek dat die seun nóg ’n geleentheid gegee moet word.

Kommer

Streeklanddros Daniel Boks het die jong beskuldigde gewaarsku dat hy ingevolge die Kinderwet wel direkte tronkstraf opgelê kan word.

Die landdros het sy kommer uitgespreek oor verkragtings wat so algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom.

Hy het bygevoeg: “Die Suid-Afrikaanse verkragtingstatistieke is skokkend.”

Die hof het voor die verrigtinge vir vonnisoplegging verdaag sodat ’n verslag van die betrokke skool verkry kan word om seker te maak die beskuldigde gaan wel nog skool.

“Jeugdiges is nie gevrywaar daarvan om tronkstraf opgelê te word nie,” aldus Boks.

Voorwaardelik

Hy’t egter in ag geneem dat die seun ’n eerste oortreder is en skuld erken het.

Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar voorwaardelik geheel opgeskort is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters