Verlede maand
Serebraal gestremd, maar trots
Dapper: Connor en sy mammie, Amy, gaan deur YouTube mense bewus maak van sy stryd.  ~ Salette Litago

DIE onlangse wêreldwye beweging wat serebrale gestremdheid (CP) beklemtoon, is onlangs gevier.

En in Suid-Afrika word geskat dat ongeveer 10 uit elke 1 000 babas wat in ’n spesifieke jaar gebore word, CP sal kry. In George is ’n oulike skool, Carpe Diem, wat wondere verrig met gestremde kinders.

Vir Amy Cloete en haar seun, Connor, maak dit werklik ’n verskil. Sy vertel hy is op 34 weke gebore en het met ’n tekort aan suurstof na sy brein gesukkel.

“Ons het uitgevind hy is serebraal gestrem toe hy nie ál sy gewone mylpale as baba behaal het nie.”

Operasies

Connor se gehoor, sig en spiere is geaffekteer. Amy vertel hy het reeds 12 operasies ondergaan om sy spiere en voete wat vervorm is, te probeer herstel.

Connor gebruik ’n walker, rolstoel en splints om te loop, maar dit keer hom nie.

Hy begin binnekort sy eie YouTube-kanaal waarmee hy mense wil inlig oor die toestand.

Amy sê Connor is van die min kinders wat gelukkig is omdat hy vroeg gediagnoseer is. Hy kry terapie en hulle doen aktiwiteite saam met hom, sover dit moontlik is.

“Hy raak gou moeg en kan nie alles doen nie, maar ons moedig hom aan.”

Sy sê vir ’n ouer met so ’n kind is dit moeilik omdat jy regtig jou hand op hul gesondheid moet hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters