4 dae gelede
Selfs oorsaak van dood is ’n mystery
ONTEVREDE: Isak Fredericks sê niemand het hom van die sterfgeval laat weet nie.  ~ Keith Meyer

OUDTSHOORN. – Die oorskot van Siena Timmie het ’n hele maand lank in die hospitaal hier gelê.

En dit sonder dat haar naasbestaandes daarvan geweet het. Só beweer Timmie se saamleefmaat, Isak Fredericks.

’n Hartseer en kwaai Fredericks vertel: “Siena het begin siek word.

“Sy het opgegooi en wou nie meer eet nie. Siena se gesondheid was nie meer so goed nie.

“Ons het die ambulans gebel om haar te kom haal. Dit was sowat ’n maand terug, so die eerste week in September.

“Ek het niks van die hospitaal gehoor nie nadat hulle belowe het hulle sal my op hoogte hou.

“Toe ek die eerste week in Oktober bel, is ek geskok met die nuus dat Siena nie meer lewe nie.

“Maar haar liggaam lê toe al ’n maand in die lykhuis. As ek daai dag nie gebel het om te vra wat klap nie, het ek nóú nog nie geweet my Siena is dood nie.”

Volgens Fredericks moes hy vervoer organise na die hospitaal.

Hy sê: “Daar was haar lêer ook nog deurmekaar.

“ ’n Ander vrou se papiere was in Siena se lêer.

“Hulle sê toe net haar longe het platgeval.

“Ek het gevra hoekom het hulle nie die polisie gebel as hulle my nie in die hande kon kry nie?”

Werkgewer

Nadia Ferreira, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, sê hospitaalpersoneel het die nommer in die oorledene se lêer vergeefs geskakel.

Ferreira sê: “Ander rolspelers is ook in die opsporingsproses gekontak.

“Die hospitaal kon uiteindelik kontak maak met die werkgewer van die pasiënt.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters