14 dae gelede
Sekspes spring tronkstraf vry
Juliano Hufke was gelukkig om nie tronkstraf te kry nie.  ~ Foto Verskaf

’N JONG man wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.

Die 21-jarge Juliano Hufke, van Schoemanshoek in die Oudtshoorn-distrik, het skuldig gepleit op die klag dat hy die 18-jarige klaagster se panty uitgetrek het. Hulle het daarna by ’n wal afgerol toe sy haar teëgesit het.

Hulle het die dag saam gekuier en gedrink.

Volgens die staatsaan­klaer, Nadia Arnolds, het die voorval die klaagster erg getraumatiseer, want sy het nooit kon dink so iets sou met haar kon gebeur nie.

“Sy voel dit is onregverdig wat met haar gebeur het,” het Arnolds gesê.

Geroep

Streeklanddros Daniel Boks het by vonnisoplegging gesê hy het probeer kyk hoe om Hufke tronk toe te stuur omdat hy nie eerlik was met die hof nie.

Gelukkig vir hom het hy nie die meisie verkrag nie omdat sy om hulp geroep en iemand haar gehoor het.

Die hof het in ag geneem dat hy skuldig gepleit en nie die hof se tyd gemors het nie.

Hy het egter in die hof kanse kom vat.

Volgens die landdros begin slagoffers al hoe meer vertroue in die howe kry.

Hufke is gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy het ook drie jaar korrektiewe toesig gekry, wat behels vier uur per dag onder huisarres, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.

Hufke mag ook nie dwelms en alkohol gebruik nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters