19 dae gelede
Saamwerk help kids skoene kry
WOW: ’n Seuntjie sit en bewonder die nuwe paar skoene wat hy gekry het.  ~ Mpumi Kiva

MOSSELBAAI. – ’n Hele klomp kindervoete hardloop nou in splinternuwe skoolskoene rond.

Vir gelukkige leerders het Krismis vroeg gekom toe skoolskoene uitgedeel is aan kinders wie se families dit nie breed het nie.

Die speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement, Masizole Mnqasela, het die skoene gaan aflewer by Diaz Primêr.

Die projek word in samewerking met Youth4Life en Samaritan’s Feet South Africa aangepak.

Danksy dié projek het hulle al 2 000 pare skoolskoene aan kinders regoor die provinsie geskenk.

Hoop

Toe dit die betrokke leerders se beurt was, het hulle opgewonde in ’n ry gaan staan. Maar voor dit moes hulle elkeen eers voete gaan was voordat dit in die nuwe skoene gepas is.

Mnqasela sê: “Julle moet altyd hoop hê. Moet nooit, ooit moed verloor nie en hou by jul drome.”

Hy het ook die onderwysers by die skool gekomplimenteer met die mooi wyse waarop onderwys hier aan die leerders gegee word. Hy sê hy kan die kultuur van kennis by die skool aanvoel.

Diaz Primêr se hoof, Genevieve Muller, was verheug dat hul skool besoek is en dat daar ook na hul leerders kom kyk is.

Sy sê hulle is diep dankbaar vir die skenking aan die kinders.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters