Verlede maand
Rooftog by shop skok inwoners
TEIKEN: Hierdie is die spaza shop wat deurgeloop het.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – ’n Gewapende rooftog helder oordag in Bergsig het die inwoners geskok en in vrees gelaat.

’n Ooggetuie vertel: “Ek was op pad na die spaza shop en toe kom daar skielik twee mans uit die winkel gestorm.

“Hulle het sakke met groceries by hulle gehad. Die twee het kappie-tops aangehad.”

Volgens ’n bron het die mans die spaza shop in Tweede Laan met ’n vuurwapen binnegaan.

Die bron sê: “Toe pluk hulle guns uit en demand geld en kos van die eienaar en laat spat met die buit in die rigting van die klubhuis.

“Die community members het die skurke agternagesit. Hulle het weggekom, maar twee sakke met groceries is agter die klubhuis gekry.”

Inkomste

Die inwoners lewe nou in vrees en beweer dis vandat inmates onder die lockdown-regulasies weer vrygelaat is.

Die bron sê: “Hulle het nie werk of ’n inkomste nie, nou slaan hulle toe op sulke winkeltjies.”

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê: “Die speurders ondersoek ’n saak van sakeroof na aanleiding van die voorval 16:00 in Bergsig. Die bewering is dat twee gemaskerde verdagtes – een gewapen – die eienaar gedreig en van kontant, kruideniersware en ’n selfoon beroof het.”

Die ondersoek is steeds aan die gang en niemand is al gearresteer nie.

Lesers met inligting kan sers. Desmond Donson by 044 213 8818 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters