6 dae gelede
‘Rasse-herrie ruk ons’
AANGERAND Dié smous is onlangs in Hartenbos met ’n paintball gun op die ken en linkerhand geskiet.FOTO’S verskaf  ~ 

DIT gons in die Suid-Kaap ná ’n beweerde rasse-voorval in die gewilde vakansiedorp Hartenbos.

Die Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa­), Dawid Kamfer, sê hy is weens die voorval op die oorlogspad.

Kamfer sê die gemeenskap is geskok en hy sal sorg dat die voorval dringend ondersoek word.

Die beweerde voorval het op Oujaarsdag in Swellendam-laan gebeur.

Die bruin slagoffer, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, smous met vis in die gebied.

Hy verduidelik: “Dit was omstreeks 17:30 en een van my werkers het by een van die woonstelle gaan soek na een van ons klante.

SKADE: Die smous beweer die buurtwaglede het sy bakkie se ruit stukkend geslaan.

“Ons het teen daai tyd al klaar gewerk, maar die werker wou die klant vra vir ’n Nuwejaarsgeskenk,­ want sy het altyd die werkers gebless.

“Sy was nie daar nie. Toe kom die buurtwagte skielik en hulle beweer hy het ’n selfoon gesteel.

“Ek het nog in my bakkie gesit, waar ek vir my werker gewag het.

“Hulle het hom aan sy T-shirt rondgeruk en op die grond gegooi.

“Sy T-shirt het geskeur omdat hulle hom gewelddadig aangevat het.”

Die smous sê hy het toe uit sy bakkie geklim om in te gryp.

Volgens hom was dit ’n fout omdat die buurtwaglede toe vir hom gegaan het.

“Toe ek vra wat die man gedoen het, sê die buurtwag: ‘F*k jou! Dis nie jou besigheid nie.’ Toe haal die buurtwag-ou ’n paintball gunuit en ek het probeer om die gun af te vat.

“Maar dit was te laat, want hy het toe klaar twee skote afgevuur. Een het my teen my linkerhand en die ander teen my ken getref.”

Hy sê hy het later eers besef dit was ’n paintball gun.

“Maar dit het soos ’n regte gun gelyk,” sê hy.

“Hierdie is beslis ’n rasse-voorval. Hy het ook my bakkie se ruit stukkend geslaan.”

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die bewering van rassisme is heeltemal ongegrond.

“Die klaer is by ’n saak van diefstal van ’n selfoon betrek, wat die SAPD bygewoon het.

“Dit blyk egter dat ’n saak (van diefstal) ten tyde van die voorval nog nie aangemeld was nie.”

Hy bevestig verder ’n saak van aanranding, die rig van ’n vuurwapen en kwaadwillige saakbeskadiging is aangemeld.

Volgens hom is ’n 38-jarige man in hegtenis geneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters