3 maande gelede
Rapist sal gou hoor oor vonnis
 ~ 

OUDTSHOORN. – Hy’s reeds skuldig bevind vir sy seksmisdrywe, maar moet nou tot die einde van die maand wag om sy lot te hoor.

Marco Zeelie (30) is in die streekhof skuldig bevind op ’n klag van verkragting, twee klagte van seksuele aanranding en een van dwang van ’n kind om seksuele misdrywe of seksuele handeling of masturbasie te bekyk.

Zeelie het die misdrywe in 2008 gepleeg toe die klaagster maar net ag jaar oud was.

Dis weer in 2011 en 2012 gepleeg.

Die hof het sy getuienis, sowel as dié van sy ma, as vals en leuenagtig verwerp, terwyl die getuienis van die 19-jarige klaagster geloofwaardig bevind is.

Gedreig

Streeklanddros Da­niel Boks het met vonnisoplegging gesê die klaagster kon ’n kronologiese uiteensetting van die gebeure gee en die hof kon nie bevind dat sy die beskul­digde vals wou beskuldig nie.

Die feit dat sy eers ver­lede jaar ’n klag gelê het, kan nie teen haar gehou word nie.

Zeelie het haar ná die eerste voorval in 2008 gedreig om dit aan niemand te vertel nie omdat hulle albei volgens hom in die moeilikheid sou beland.

“Sy was ag jaar oud en het geglo dat niemand haar sal glo nie,” het die landdros gesê.

Effek

“Sy het later slapelose nagte gehad en van tyd tot tyd terugflitse gekry.

“Dit het ’n effek op haar gehad en sy het in Mei 2018 besluit om haar onderwyseres daarvan te vertel omdat sy dit nie langer kon uithou nie.

“Sy het nie geweet hoe om dit aan haar ouers te vertel nie en is deur die onderwyseres aangeraai om dit op skrif te stel.”

Zeelie se ma het getuig dat die klaagster leuens vertel.

Die beskuldigde se getuienis was een van algehele ontkenning.

Zeelie se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof om uitstel gevra vir ’n proefbeampte se voorvonnisverslag.

Die saak is vir dié doel tot Maandag 29 April uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters