7 dae gelede
Projek bring só verligting
SAMARITANE: Suefran Killian-Odendaal (links), Deslene Januarie en hul fantastiese span verrig wondere.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Soos ’n oase in ’n dorre woestyn.

Só is die gesondheids­werkers van die gemeenskapsprojek Oasis vir dié dorp as dit by die versorging van siekes in die gemak van hul eie wonings kom.

Oasis se 42 werknemers het deur die jare die toets van die tyd deurstaan, maar nou met die Covid-19-pandemie het hulle waarlik uitgestaan.

Suefran Killian-Odendaal, die projekleier, vertel: “Ons het reeds ’n verskeidenheid projekte deur verskillende befondsers deur die jare geloods.

“Een van die projekte is die tuis- en gemeenskapsgebaseerde dienste wat deur die departement van gesondheid befonds word en vanuit die satellietkantoor in Ladismith bestuur word.

“Hierdie projek bestaan uit gemeenskapsgesondheidswerkers (GGW) wat in die gemeenskap gesondheidsvoorligting doen, en ook beraders wat binne die plaaslike klinieke berading doen.

Waardeer

“Hulle doen male sonder tal ekstra moeite buite werksure om seker te maak dat hul pasiënte die nodige versorging geniet.”

’n Pensioenaris wat haarself net ant Anna noem, is in die wolke oor Oasis se dienste. “In wind en weer, in somer en winter, in reën en mooiweer sal jy hulle sien, besig in ons gemeenskap.

“Ons waardeer hulle ten seerste.”

Killian-Odendaal sê hulle moes aan die begin van Covid-19 talle aanpassings maak.

Dit was nodig nie net om werkers se veiligheid te ver­seker nie, maar ook om seker te maak dat noodsaaklike dienste steeds aan pasiënte gelewer kan word.

“Dienste soos ernstige wonde tuis versorg, noodsaaklike medikasie aflewer en pasiënte opspoor wat die kliniek moet besoek, moes voortgaan.

“Ons het ook gehelp met die Covid-19-siftingsproses in die gemeenskap en onderskeie klinieke,” sê sy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters