9 dae gelede
Prediker die hel in oor diewe
dis als gevat: Die kerk se stoele, klankstelsel en ligte is weg. FOTO’S VERSKAF  ~ 

BOOSDOENERS het ’n tentkerk rot en kaal besteel.

Past. Shulano Bell en lidmate van die One Faith-gemeente is kwaad vir die boewe “wat kom afbreek waar ons in die gemeenskap wil opbou”.

Bell gaan voort: “Ons soek nou al jare grond vir ons kerk, maar daar word elke keer gesê daar is nie in die Durbanville-omgewing grond of geboue beskikbaar nie. En as geboue beskikbaar raak, is die rent hoog.

“Dis so ’n groot frustrasie en die uitdagings in ons gemeenskappe raak net meer.”

Volgens die pastoor het hulle teen R20 000 per maand ’n gebou in Durbanville gehuur. Maar toe die huurder ’n beter aanbod kry, is hulle kontrak skielik beëindig.

“Toe ons die plaaslike raads­lede nader, is gesê daar is geen geboue vir kerke beskikbaar nie.

Skouer

“Wat ons kwaad maak, is dat daar vir sjebiens en smokkelaars voorsiening gemaak word. Hulle slaan soos paddastoele oral in die gemeenskap op.

“Hier is ons besig om die morele waardes van ons mense te help bou, maar oral waar ons aanklop vir ’n plek, word ons ’n koue skouer gegee.”

Die Garden Cities-behuisingsprojek in Fisantekraal het ’n stuk grond tydelik aan die kerk beskikbaar gestel.

“Toe ons die tent daar opsit, is ons binne 24 uur beroof.”

Twee kerkbroers wat die plek opgepas het, is met messe aangeval.

Die stoele, beligting en klankstelsel is gesteel.

Bell wil weet: “Waar is die politieke leiers nou wat ons so ingestem het? Ek wil op die breë kerk ’n beroep doen om saam te staan en hande te vat dat ons die euwels in ons gemeenskappe kan uitroei.

“Dit is ’n tydbom, maar ons gaan nie ophou om die blye boodskap van hoop te bring nie.

“Ons sal dit ook waardeer as daar barmhartige Samaritane is wat die kerk wil help.”

  • .
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters