12 dae gelede
Polisie speel nie met merts
SKOONSKIP: Talle drugs is gekonfiskeer ná ’n skoonmaak-operasie.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Vir die eerste keer in ’n lang tyd het die cops laas week weer die merts bloedneus geslaan.

In ’n gesamentlike operasie het die manne in blou die townships ingevaar en elke moontlike verdagte drug-huis en runner deurgedraf.

Maar nie voordat van die verdagtes die cops met klippe bestook het nie.

Skof C se cops, en dié van skof A, het in lockdown die lof van die gemeenskap gekry.

Jan Swanepoel, ’n inwoner, het ’n boodskap gestuur: “Druglords is wakker geskud. Die mense se kosgeld laat hulle mos lekker lewe. Die polisie moet sommer die entjie merts ook plat speel.”

Dankbaar

’n Betroubare bron na aan die ondersoek vertel: “Tik en Mandrax-pille is by een mert se joint gekry. ’n Meisie is ook met dwelms betrap en sy het geskel dat dit ’n mert s’n was wat sy moes hou.

“Sy’t geskel hy moet man staan vir sy drugs. Tik is ook op hokkies se dakke gekry. ’n Mert is gevang terwyl hy besig was om van die Mandrax-pille te cut.”

Jakob Willemse, gemeenskapsleier, sê: “Die gemeenskap is dankbaar dat daar in lockdown steeds voortgegaan word om die drugs in ons gemeenskap uit te roei.”

Die plaaslike polisie het intussen bevestig dwelms is tydens die operasie gevind en dat hulle besig is om sake van dwelmhandel te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters