12 dae gelede
Pel, polisie praat
mammie: Hetta Cornelius woon laas week die hofsaak by. Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Die verhoor van Ronvigon Wildeman is Vrydag hier in die rondgaande hooggeregshof tot môre uitgestel.

Wildeman, van Haarlem, is aangekla van die moord op sy 18 maande oue seun, Vagon Cornelius.

Die verrigtinge is uitgestel omdat die regter ’n saak in Beaufort-Wes moes gaan hanteer.

Vrydag is die getuienis van nog twee staatsgetuies aangehoor.

Sylvia van Rensburg, ’n vriendin van die ma, Hetta Cornelius, het getuig Hetta­ het die middag van 9 Februarie 2019 omstreeks 17:00 met die kind in haar arms by haar huis aangehardloop gekom.

“Hetta was in skok. Ek kon nie juis uitmaak wat sy sê nie omdat sy erg gehuil het.

“Ek kon uitmaak dat sy my vra om ’n ambulans te bel omdat haar kind dood is. Vir my het dit gelyk asof die kind slaap,” het Van Rensburg getuig.

Volgens haar het sy geskrik. Hetta het met die kind op ’n bank gaan sit terwyl sy ’n vriend gaan vra het om die ambulans te bel.

Van Rensburg het gesê die kind het geen teken van lewe getoon nie. Forensiese personeel het hom later weggeneem.

Sers. Franklin Arnoldus van die polisie in Uniondale het getuig dié aand is hy uitgeroep na Bi­shopstraat in Haarlem kort nadat hy vir diens aangemeld het. Daar het hy die kind onder ’n kombers op ’n bank gesien lê. Volgens hom het die kind nie meer asemgehaal nie en paramedici het hom later dood verklaar.

Adv. Leandra Adams verteenwoordig Wildeman.

Arnoldus het op vrae van Adams getuig hy’t saam met ’n speurder na die woning van Victoria Kapank gegaan, maar was nie by die ver­sameling van enige bewysstukke betrokke nie.

Adv. Bredenkamp het hierna verklarings van sers. Jakob Boshoff en drie forensiese beamptes aan die hof voorgelees. Dit is as bewysstukke aanvaar.

Volgens Boshoff is hy dié aand na Haarlem. Hy het ook die kind op ’n bank in Van Rensburg se woning gesien lê.

Verbreking

Hy is toe na Kapank se woning, waar hy beslag gelê het op die beweerde moordwapen – ’n groot klip wat 18,425 kg weeg.

Wildeman het aanvanklik skuld erken op klagte van die verbreking van ’n beskermingsbevel wat Cornelius in 2016 teen hom verkry het, alternatiewelik aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging, maar het skuld aan die moord ontken.

Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy het die klip na die ma gegooi en die kind kon seergekry het.

Regter Parker het na aanleiding hiervan ’n pleit van onskuldig op ál die klagte aangeteken.

  • Parker wou Donderdag by Son se joernalis weet of Son skryf die beskuldigde is ’n kindermoordenaar omdat hy die oggend by hom gekla het. Medegevangenes het hom glo so meegedeel en hy was ongelukkig daaroor.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters