16 dae gelede
Pa hospitaal toe gemoker
OOG BOTTOE: Eric Pieters sterk in die hospitaal aan.  ~ Foto Verskaf

SLANGRIVIER. – ’n Pa is erg beseer toe hy sy dogter wou beskerm.

Wat ’n doodnormale reaksie van enige pa sou wees om sy kroos te beskerm, het Eric Pieters (64) van die dorp duur te staan gekom toe iemand hom met ’n baksteen of groot klip gegooi het.

Die aanval op die Pieterse se woning het Saterdagaand gebeur terwyl die gesin saam met vriende aandete geniet het.

Pieters, wat nog in die George-hospitaal is, beweer hy het gehoor sy dogter se kêrel rand haar aan.

Hy was nog in die skemeraandlig op pad om te gaan kyk wat aangaan toe hy ’n groot voorwerp hom op die oog tref. Hy was steeds op sy erf.

Pieters sê hy het dadelik met sy hand oor sy oog badkamer toe gehardloop om die bloed af te was.

“Terwyl ek nog in die badkamer was, het ek gehoor hoe my vensters stukkend geslaan word. My kamerdeur is oopgetrap terwyl ek in die en suite-badkamer besig was.”

Hy sê sy dogter se kêrel, dié se pa en nog ander familielede het hom met gholf- of hokkiestokke in sy kamer aangerand.

Volgens AO Alroy Windvogel, die plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n klag van aanranding gewoon en betreding sonder toestemming teen ’n 32-jarige man aanhangig gemaak.

Hy is ’n skulderkenningsboete van R300 opgelê.

Indien hy nie betaal nie, sal hy in die hof moet verskyn, het Windvogel verduidelik.

Ontslaan

Pieters het telefonies gesê hy gaan self ’n klag van betreding, saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer open sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters