10 dae gelede
Pa buite huis doodgesteek
VERLIES: Selina Makamu en haar dogter, Sarafina, kyk baie hartseer na ’n foto van hul geliefde man en pa.  ~ Clive Pretorius

HEIDELBERG. – ’n Pa van drie is Vrydag dood toe hy net ná 22:30 gelem is – na bewering deur sy 22-jarige stiefseun.

Ná ’n stryery met die verdagte is Johan White (45) buite voor sy slaapkamervenster twee keer met ’n Okapi-knipmes in die linkerbors gesteek.

Die voorval het op ’n plaas in die gebied bekend as “Die Plotte” gebeur.

Volgens AO Alroy Wind­vogel, die plaaslike polisiewoordvoerder, het van die familielede ’n stryery buite gehoor.

Windvogel sê volgens een van die getuies het die verdagte ewe kalm die mes aan een van hulle gegee toe hulle buite op die toneel kom.

White se saamleefmaat, Selina Makamu, het hartseer vertel hoewel White nie haar oudste seun, Sipho Makamu, se biologiese pa was nie, het hy hom as sy eie aanvaar en grootgemaak.

“Ek is baie kwaad vir Sipho omdat hy (na bewering) só iets gedoen het,” het die bedroefde Makamu gesê terwyl sy haar en White se jongste dogter, Sarafina, styf vas teen haar bors gedruk het.

Benewens Selina en Sara­fina laat White een dogter en een seun asook een kleinkind agter.

Verskyn

Volgens Windvogel ondersoek die polisie ’n klag van moord.

Die verdagte het gister reeds in die plaaslike landdroshof verskyn.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters